Wie sê wat oor Speels

Speels

Elle Roux is so lank geskei, sy het amper vergeet hoe dit voel as 'n man aan haar raak. Maar wanneer sy leer wat vryheid beteken, sonder verlief raak en seerkry, soek sy na 'n speelmaat – 'n seksmaat – met gevolge wat wissel van skreeusnaaks tot knop-in-die-keel. Hier word die mees intieme geheime ontbloot op ’n manier wat min vroue ooit sal waag. Wees gewaarsku: Elle vertel alles.


Elle Roux ken die verskil tussen liefde en seks. Geïnspireer deur 'n oopkop dominee word sy 'n entoesiastiese student in die universiteit van die sensuele lewe. Sy slaag met hoogste lof in die kursus vir mans ontmoet via moderne kommunikasiemiddels. Ná hierdie spulse lewenskursus is sy wys, en leer sy ons die groot les van die sensuele vrou se lewe: Sorg dat jy weet wat jy wil hê – regtig wil hê.
Elle Roux beskryf haar ompad na die liefde op 'n onvergeetlike manier. Speels is 'n vrolike boek – met hiedie skrywer aan die woord kan dit nie anders nie!
Kerneels Breytenbach


Die boek het my ontroer, Mamma ... én ja, dit was baie snaaks!
Elle se oudste seun.


In hierdie biegroman is geen Martie Martelgat aan die kerm nie, eerder Lenie Lekkerkry wat alles blootlê wat sy as innoverende moderne enkelvrou waag. Sy deel ook haar dieper insigte. Koop, lees en leer ...
engemi ferreira


Applous!! Applous! Absoluut heerlik! Hierdie boek spreek van suiwering, beswering, onthulling, heerlike humorsin.
Die leser is in die bevoorregte posisie om soos 'n vertroueling of beste vriend(in) te kan luister na die eerlike verhaal van Elle se mees intieme wedervarings.
Johann Bester


Elle is frieken hot! Fantasties!
Chrispa Hamel Cloete


Oor die skrywer:

Elle Roux is ’n bevryde vrou met ’n ondersoekende gees en vele passies. Onortodoks en avontuurlustig, geniet sy die uitdagings van die eiendomsbedryf op die Wes-Kaapse platteland en is versot op perdry, gedigte en haar boerboel.
Internet-avonture het vir Elle wêrelde oopgemaak wat nog nie só in Afrikaans beskryf is nie. 'n Heerlike humorsin help haar deur gebeure waarvan baie vroue sal wegskram. Sy haal ook graag Marilyn Monroe aan: “Give a girl the right shoes and she can conquer the world.”


Met haar boek Speels laat Elle Roux ’n deur oop vir lesers om hulle eie pad na die liefde te vind.


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking