Dinsdag 25 Maart 2014

Die aanloklike oop deur

So op die vooraand van ons KKNK-praatjie by die ATKV Kafee loop my gedagtes weer terug in die spore van Speels se storie.
As iemand my vandag sou vra wat werklik aanleiding gegee het dat ek op dié pad van Speels beland het, is die antwoord in alle eenvoud: eensaamheid.
Die skrikwekkende, aller verskriklike alleen ná my kinders uit die huis uit is, kon ek nie eens by die naam noem nie. My afgekapte hande en gebrokenheid nie eens erken nie. Dít sou ’n swakheid wees, ’n skande.
Die spreekwoord: lag en die wêreld lag met jou, huil en jy huil alleen, het ek té goed geken. My enigste alternatief was om die lendene te omgord en pro-aktief te wees.
Nou ja, ek kon seker by ’n tuinbouklub, óf koeksistervereniging aansluit, maar reg voor my was die internet se oop deur – moeiteloos toeganklik met ’n hele wêreld wat wag om met my te gesels op die punte van my vingers . . .

http://kknk.co.za/program-2/lesings/stories-en-skrywers/speels-en-sexy-in-afrikaans/ 



Donderdag 28 November 2013

Het jy al vir Petrus ontmoet?



DIE VOYEUR, DIE WILDEKALKOENEIER EN DIE DWERGTOLLETJIE
(Uittreksel uit Speels)

’n Motor stop buite en ek kyk gou by die venster uit. Dit kan net Ben wees. 

Maar dan moet ek my oë ’n hele paar keer knip: Wat ek sien, is ’n oupagrootjie wat sukkel om uit ’n ou, vaal bakkie te klim.
Ek wil nie die deur oopmaak nie. Ek wil niks meer met énige man te doen hê nie. Ek staan net. En hy hou aan met klop. Skielik is ek baie bly ek lyk nie op my beste nie.
“Hallo, oom, is oom se naam Ben?” vra ek hoopvol toe ek dapper genoeg voel om vir hom oop te maak. Dit kan tog nie wees nie!
“Ben Cloete, ja! Môre, môre. Mensig, maar jy’s ’n mooi aster!”
Vanoggend se moed verdwyn soos die spreekwoordelike mis voor die son en ek probeer hard om vriendelik te bly. “Kom maar in, oom.”
Hy moet doof wees, want hy reageer glad nie op die “oom” nie. Ons stap met die gang af en ek hoor ’n snaakse klank agter my. Die ouman kug-kug en hy is aan die vryf. Dit vryf so ál by die gulp verby. Dan ruk hy homself so ’n bietjie regop, en weer kom die snaakse klank: “Hhhhmmmmm! Hhhmm! Hhhhhmmmm!” Baie soos ’n engine wat wil start.
Ek maak hom in die sitkamer sit. “Net ’n minuut, oom. Ek gaan maak vir ons tee. Engels of rooibos?”
“Dit sal vorentoe smaak, nonna!” Hy is definitief hardhorend. In die kombuis gryp ek die kookbrandewyn wat langs die stoof staan en vat ’n sluk uit die bottel. Nie dat dié Dutch courage sal help nie. Kan ’n mens wragtag nog so hups wees op daardie ouderdom, met die vrywery aan die gulp?
Met die rooibostee op die tafeltjie tussen ons begin ek, uit hoflikheid: “Hoe lank bly oom-hulle al op die dorp hier langsaan?”
“Ag, nonnatjie, dis al jarre. Van ek afgetree is. Maar ek doen nog deeltydse werk, hoor! Moenie vir my verkeerd kyk nie!” Hy wil sommer dadelik tot die punt kom, hy wil vertel hoekom hy so vinnig na my toe gery het. “Poplap, dis omdat dit Saterdag is. Kyk, ek en my vrou Lettie, ons is nou eintlik gewoond Saterdae is ... dis nou ons dag.”
“Oom-hulle se dag?”
“Ja, poppie. Jy weet, almal het maar hulle gewoontetjies. Ons gewoonte is Saterdae saam met nog een ...” Die oom haak vas, vryf ’n slag oor die gulp en gee weer ’n “Hhhhmmmmm! Hhhmm!”
“Saam met nog een, oom?” Ek glo nie ek verstaan reg nie. Nee, dit kan nie wees nie!
“Ja, élke Saterdag, klokslag. Maar nou’s ons in die knyp, jy sien. Die vroutjie wat altyd sáám met ons gevry het, dié het getrek. Dis hoekom ek nou kom kyk het ... Nonna, ek het kom kyk of jy sal inpas. Ja. Of jy nou die regte een sal wees vir my en my vrou.”
Holy Moses! Wees stil, my swak hart. Maar die oom is nie klaar nie. Hy bekyk my lank, met doodse erns. Op en af kyk hy. “Ja, ek moet jou eerlik sê, jy is baie mooier as wat daardie vroutjie was. Nee, ek kan sommer sien jy’s reg.” Hy gee die gulp ’n flinke vryf. “Jy gaan inpas, pop. Ek waarborg jou, jy gaan baie gelukkig wees by ons!” Sy beplooide gesig straal behoorlik en hy vryf sy wye snor plat met die agterkant van sy hand.
Ek wil klaarspeel met dié storie. “Weet jy, oom, ek het regtig ’n enkel, ongetroude man gesoek, ek het nie vir ’n couple gesoek nie.” Ek het nie krag hiervoor nie, ek wens hy wil nou net gaan. Asseblief! Ek staan solank op.
“Nee maar, ounooi, jy gaan dit verskriklik geniet! Jy het geen idee hoe lekker jy by ons gaan kuier nie. Naweke kan jy sommer kom oorbly, dan begin ons al Vrydagmiddag. Tot Sondagaand, dwarsdeur! En daar’s ’n bonus! Hhhhmmmmm! Hhhmm! My vrou is ’n bobaas kok, pop! Sondae gaan jy skaapboud eet, trifle vir poeding, Hertzoggies saam met die koffie. Jy kan bekostig om ’n paar pondjies by te sit, ek kyk jou so!”
Ek bly staan; dan skuifel ek in die rigting van die deur. Maar nou raak die oom braaf, met ’n breë perdeglimlag.
“Daar wag ’n verrassing vir jou, pop! Jy’t nog nie vir Petrus gesien nie!” Die hand is weer by die gulp besig. En hy raak nog brawer: “Man, ek is nou so warm, ek wys hom sommer vir jou!”
Die oom beur op uit die stoel en in dieselfde beweging trek hy sy zip af. En daar hang Petrus. Die ene kolle, soos ’n wildekalkoeneier. Bruin, pienk, ’n bietjie wit. ’n Slap, gevlekte affêre.
“Asseblief, oom, trek op daai zip! En ek dink oom moet regtig nou gaan!” Ek gryp hom aan die arm en hy “Hhhhmmmmm! Hhhmm!” die hele end met die gang af tot by die voordeur.
Skaars het ek die Yale lock behoorlik op knip, of daar is weer ’n klop aan die deur.
“Kry jou ry, oom, ry!”

Toe die oom se bakkie om die hoek verdwyn, dink ek: Dit was so afgryslik, hoe gaan ek dit ooit uit my kop kry? Slap chips en Russians! O fok, net nie ’n Russian nie! Spare ribs.




Weet darem nie so mooi nie . . .

Nou weet ek darem nie so mooi nie . . . 
Lees hierdie uittreksel uit Speels en laat weet of jy dink dit val in die genre Hygliteratuur.

Ja, dis erotika met 'n twist, maar persoonlik dink ek dit is misleidend om Speels te beskryf as Hygliteratuur?!

http://www.litnet.co.za/Article/2013-uittreksel-uit-speels-deur-elle-roux


Liplekker Hoofstukke

Een van die groot plesierighede met die skryf van Speels was om die hoofstukname uit te dink en ek deel graag 'n paar van hulle:


Maandag 11 November 2013

Op Naledi se webblad

Speels pryk tog te guitig op Naledi se webblad! Gaan kyk wat Kerneels Breytenbach van Speels sê op http://www.naledibooks.co.za/content/speels

Donderdag 31 Oktober 2013

Speels eerste keer genoem in die media

Ons trippel in die wegspringblokke! Louwrens Potgieter van CNA het die kat uit die mou gelaat en op LitNet genoem dat Speels een van die dae - in November - beskikbaar gaan wees by CNA. Uiteindelik op is ons op pad rakke toe. JAY!

http://www.litnet.co.za/Article/geen-truuks-net-treats

Donderdag 24 Oktober 2013

Wonder woorde

Duisend dankies aan Kerneels Breytenbach, engemi ferreira en Chripa Hamel Cloete vir julle gul woorde wat op Speels se omslag pryk. 


Tot barstens toe

Vandag is ek tot barstens toe opgewonde, want uiteindelik het die dag aangebreek dat Speels drukkers toe gaan. Sjoe, my hart klop in my keel en my ore suis ... ☺
Hier is is Speels se speelse voorblad:


Dinsdag 17 September 2013

Waar die wortels lê


Vandag wil ek so bietjie meer van myself en die ontstaan van my boek Speels vertel: Niks sou gebeur het as my kinders nie die nes verlaat het en liefdesteleurstellings in die verlede nie ’n paar keer my hart gebreek het nie.

Hierdie teleurstellings, my leë huis en ’n aardige hol gevoel het my gedwing om antwoorde te soek.

Nou ja, my manier van soek kan sekerlik nie as konvensioneel beskryf word nie en het my voete op ’n ompad na die liefde laat beland.

’n Ompad wat menige keer my oë laat rek en my kakebeen op die vloer laat val het. ’n Meer as twee jaar rollercoaster avontuur waarvan ek dagboek gehou het en die volle storie vir niemand vertel het nie tot en met Speels.

Vrydag 13 September 2013

My voete sweef . . .


Ek kan nou nog nie glo dat Speels met die eerste probeerslag deur Naledi Boeke aanvaar is nie! Sjoe, wat ’n wonderlike voorreg. My voete sweef . . .

Dankie, Anelia en P&H vir al julle aanmoediging, insette en ondersteuning, julle is my vlerke. Dankie, Melt vir jou entoesiasme en positiewe bevestiging. My beker loop oor.

Bella, J&G – julle was met elke asemteug, elke donkerwolk dáár vir my. Julle is my hartklop.

Dinsdag 10 September 2013

Loer bietjie


Fifty Shades of Grey is ’n vulletjie wanneer dit kom by Elle Roux se veel wyer ervarings in Speels, ’n splinternuwe vuurwarm en humoristiese roman gegrond op ware gebeurtenisse.

Elle Roux is mollig, funky en aweregs, versot op skoene, karre en boerboele. Sy het lank nie gedate nie en moet van vooraf alles leer oor dating en wat daarmee saamgaan. Haar pogings om d.m.v. Skype, Dating Buzz en Gumtree op die internet ’n vriend vir wedersydse plesier te ontmoet het skreeusnaakse gevolge.

Hoera!

Speels is met die heel eerste voorlegging aan Naledi aanvaar om gepubliseer te word! Hou hierdie spasie dop vir wanneer hierdie vuurwarm skreeusnaakse boek bestel kan word!

Woensdag 24 Julie 2013

Lusmakertjie!


Applous!! Applous! Absoluut heerlik!  Hierdie boek spreek van suiwering, beswering, onthulling, heerlike humorsin. Neig na ’n sekere koppigheid, speelsheid en eiegeregtigheid aan die kant van die skryfster. Sy fantaseer oor ’n eie transfigurasie (as die onmoontlike net sal gebeur en alles nuut word). Ons wat so dikwels met fantasie werk, hoop bewustelik of onbewustelik om by die gebeurtenisse betrek te word, al is dit net as toeskouer. Ek kan nie wag dat die boek verskyn nie.

Johann Bester