Dinsdag 17 September 2013

Waar die wortels lê


Vandag wil ek so bietjie meer van myself en die ontstaan van my boek Speels vertel: Niks sou gebeur het as my kinders nie die nes verlaat het en liefdesteleurstellings in die verlede nie ’n paar keer my hart gebreek het nie.

Hierdie teleurstellings, my leë huis en ’n aardige hol gevoel het my gedwing om antwoorde te soek.

Nou ja, my manier van soek kan sekerlik nie as konvensioneel beskryf word nie en het my voete op ’n ompad na die liefde laat beland.

’n Ompad wat menige keer my oë laat rek en my kakebeen op die vloer laat val het. ’n Meer as twee jaar rollercoaster avontuur waarvan ek dagboek gehou het en die volle storie vir niemand vertel het nie tot en met Speels.

Vrydag 13 September 2013

My voete sweef . . .


Ek kan nou nog nie glo dat Speels met die eerste probeerslag deur Naledi Boeke aanvaar is nie! Sjoe, wat ’n wonderlike voorreg. My voete sweef . . .

Dankie, Anelia en P&H vir al julle aanmoediging, insette en ondersteuning, julle is my vlerke. Dankie, Melt vir jou entoesiasme en positiewe bevestiging. My beker loop oor.

Bella, J&G – julle was met elke asemteug, elke donkerwolk dáár vir my. Julle is my hartklop.

Dinsdag 10 September 2013

Loer bietjie


Fifty Shades of Grey is ’n vulletjie wanneer dit kom by Elle Roux se veel wyer ervarings in Speels, ’n splinternuwe vuurwarm en humoristiese roman gegrond op ware gebeurtenisse.

Elle Roux is mollig, funky en aweregs, versot op skoene, karre en boerboele. Sy het lank nie gedate nie en moet van vooraf alles leer oor dating en wat daarmee saamgaan. Haar pogings om d.m.v. Skype, Dating Buzz en Gumtree op die internet ’n vriend vir wedersydse plesier te ontmoet het skreeusnaakse gevolge.

Hoera!

Speels is met die heel eerste voorlegging aan Naledi aanvaar om gepubliseer te word! Hou hierdie spasie dop vir wanneer hierdie vuurwarm skreeusnaakse boek bestel kan word!